Geskiedenis

1931 - Kooperatiewe vereniging word gestig 1935 - Graan skoonmaakdiens op Koperfontein open 1936 - Graan skoonmaakdiens op Koringberg open 1943 - Tak in Moravia open 1944 - Tak in Bergrivier open 1946 - Werkswinkel vir hersteldiens word opgerig 1948 - Tak in Langebaanweg open 1953 - Depot open in Leliedam 1953 - Nuwe hoofkantoorgebou word gebou en ingewy

Die Moorreesburg Koring Boere Ko-operatiewe Vereniging word uit nood gebore. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was grondpryse hoog en toe pryse later daal, was menige boer in 'n groot penarie omdat skuld op hoë grondprys waardasies aangegaan is. Die teëspoed is egter getemper deur 'n ekonomiese oplewing in die land wat veral vanaf 1925 tot 1928 geduur het. Op 25 September 1931 besluit 47 boere om 'n koöperatiewe vereniging te stig. Mnr J.H. Basson wat deurentyd die leiding neem tydens onderhandelinge, word op 4 Desember 1931 as voorsitter verkies en mnr J.S. Marais as ondervoorsitter. Op 1 Julie 1965 word die Vereniging omskep tot 'n Koöperasie. Die nuwe naam is Moorreesburgse Koringboere Koöperatief Beperk en word daar voortaan na verwys as MKB.

Die hoeksteen van 'n nuwe hoofkantoor-gebou word op 28 September 1953 gelê en die gebou amptelik op 9 Desember 1953 ingewy. In 1983 word die hoofkantoor uitgebrei met kantore vir senior bestuur en 'n nuwe raadsaal, asook 'n selfbediening winkel op die grondvloer. Die handelsafdeling van die Bergrivier tak word in 1998 na Velddrif oorgeplaas waar 'n netjiese winkel kompleks en brandstof vulstasie gebou is.

Die behoefte vir die herstel van windpompe, plaas masjinerie en motors word al groter. 'n Werkswinkel gebou in Hoofstraat word gehuur om die diens te lewer. Die diens is so populêr dat 'n nuwe werkswinkel gebou in 1946 opgerig word.

Die ontvolking van plase weerspieël duidelik in die ledetal van MKB wat vanaf 'n nederige begin met 47 lede gegroei het tot 2079 in 1965 en weer gedaal het tot 466 in 2008. Rekord oeste word in 1987, 1993, 1996 (meer as 250 00 ton) en 2002 behaal toe meer as 200 000 ton koring by MKB se silos ontvang word.

1965 - Vereniging word omskep tot 'n Kooperasie en MKB genoem 1972 - Eerste silos te Moorreesburg, Koperfontein en Koringberg word opgerig 1977 - Die Langebaanwegtak sluit 1983 - Hoofkantoorgebou word uitgebrei 1995 - Canola oliepers in Moorreesburg word gevestig 1998 - Bergrivier handelsafdeling word oorgeplaas na Velddrif 2000 - Jan Basson Konferensiesentrum word ingerig 2000 - Petfood Caterers word op Moorreesburg opgerig 2006 - MKB en Southern Oil neem Swartland Oliepers (Canola) oor 2007 - Landmark in Langebaan open

In die begin jare word store van verskeie maatskappye op Moorreesburg gehuur vanwaar besigheid gedoen word. Daar word ook 'n graan skoonmaak diens in die lewe geroep. Takke word op Koperfontein (1935) en Koringberg (1936) oopgemaak. Nog takke word te Moravia (1943), Bergrivier (1944) en Langebaanweg (1948) geopen waar boerdery benodighede verskaf en graan ontvang word. Die Langebaanwegtak sluit in 1977. 'n Depot word in 1953 by Leliedam begin. Ten einde oorvleueling te voorkom word met buur koöperasies ooreengekom waar silos opgerig sal word en word in 1955 aansoek gedoen vir die oprigting van massaskure te Moorreesburg, Koperfontein en Koringberg. Daar moet egter tot 1972 gewag word voordat die eerste silo's opgerig word. Oor die jare heen is die opbergingskapasiteit by MKB se silo's aansienlik verhoog en staan dit tans vir graan en saad in massa op 195 550 ton.

Canola, 'n gewilde oliesaad waaruit kookolie en margarien vervaardig word, word sedert 1995 toenemend verbou. Dit het gelei tot die vestiging van 'n oliepers in Moorreesburg. In 2006 neem MKB en Southern Oil van Swellendam gesamentlik die Swartland Oliepers op Moorreesburg oor.

In 2000 word 'n stoor agter die hoofgebou ingerig as 'n konferensie sentrum, die Jan Basson Sentrum. Die vestiging van nywerhede word ondersoek wat daartoe gelei het dat 'n hondekos fabriek, Petfood Caterers, op Moorreesburg opgerig word.

Mag die woorde van die Registrateur van Koöperasies wat hy in 1965 t.o.v. die Koöperasie gebruik het, steeds vandag en toekomstig van toepassing wees:

"Arm is hy gebore, maar ryklik is hy geseën en ryklik het hy groot en sterk geword. Die Moorreesburg Koöperasie is soos die groot akkerboom, wat eers 'n akkertjie was, maar waarvan die uitgestrekte takke nou diens, vrede en rus bied."